Hoe skep ‘n mens spanning in ‘n verhaal? Deur Wilna Adriaanse

“Niets is zo moeilijk als schrijven over vrede, geluk en lachende baby’s. Botsende krachten zijn nu eenmaal de grondstof van fictie.” – Renate Dorrestein

 

Stories gaan primêr oor konflik/ besluite/kruispaaie. Die konflik kan uiterlik of innerlik wees.

Daar word beweer dat daar slegs twee storielyne vir al die stories in die wêreld is, naamlik:

  1. Stranger comes to town.
  2. Hero leaves home.

Eerstens is daar ‘n bestaande orde wat gevaar loop om te verander of omver gewerp te word met iemand wat skielik op die toneel kom of iets wat onverwags gebeur.

Tweedens gaan verhale oor ‘n soektog of ‘n strewe. Die hoofkarakter verlaat die bekende omgewing/lewe om na iets te gaan soek. Dit kan liefde wees of geregtigheid, die waarheid of geluk, hoe dit ookal sy.

Hoe skep in mens spanning in die twee storielyne? Hier is ses idees…

  1. Begin: ‘n Skrywer het dikwels net daardie eerste sin om ‘n leser mee te vang en die spanning moet reeds vanaf die begin duidelik wees. Kurt Vonnegut skryf dat hy altyd by die begin van ‘n verhaal sorg dat sy karakter iets wil hê, al is dit net ‘n glas water. Die leser moet so gou as moontlik binne-in die storie gegooi word en verstaan wat op die spel is.
  2. Perspektief: Die keuse van perspektief kan ook bydra tot die spanningslyn. Wanneer die hoofkarakter die fokaliseerder is en die verhaal uit haar/sy oogpunt vertel word, beleef die leser die gebeure saam met die karakter.
  3. Pas: Daar moet toenemend ‘n stygende spanningslyn wees. Dit is dan belangrik om nie die verhaal te veel vooruit te loop nie, maar dit toneel na toneel te laat ontvou. Die afwisseling van die lengte van sinne kan ook bydra om spanning te verhoog of kortliks ‘n verposing te gee.
  4. Doel: Maak seker dit waarna die karakter strewe of gevaar loop om te verloor is die moeite werd en geloofwaardig.
  5. Struikelblokke: Dit is die skrywer se taak om die struikelblokke so hoog as moontlik vir die karakter te maak sodat die verhaal werklik ‘n toets en ‘n uitdaging vir die karakter kan wees. Maar terselfdertyd moet dit by die verhaal pas en geloofwaardig wees.
  6. Hoofstukke: ‘n Verdere manier om die spanning deur die verhaal vol te hou is om elke hoofstuk af te sluit met ‘n onopgeloste of ‘n nuwe probleem. Dit sorg dat die leser wil aanhou lees om seker te maak die probleem word in die volgende hoofstuk opgelos.

 

As skrywer is dit belangrik om te onthou sodra die konflik opgelos is, is daar nie meer storie nie, so die ontknoping moet so lank as moontlik uitgestel word.

 

Sedert 2000 het Wilna Adriaanse 12 boeke geskryf en gepubliseer. Van die meer onlangse boeke is, Rebecca, Met ander woorde en Die boek van Ester.

In 2002 wen sy Lapa-uitgewers se Liefdesverhaaltoekenning. In 2009 word Die Boek van Ester benoem vir die M-Net prys vir Mees Verfilmbare manuskrip en dieselfde
boek wen ‘n ATKV/Sanlam Woordveertjie vir Beste Liefdesverhaal.

 

SA Writers’ College bied sedert 2005 skrykursusse aan in Gauteng (Germiston, Johannesburg, Pretoria en Vereeniging); Noord-Kaap (Kimberley, Upington en Fraserburg); Wes-Kaap (George, Kaapstad, Knysna en Mosselbaai); Oos-Kaap (Alice, Aliwal-Noord, Bhisho, Graaff-Reinet, Grahamstad, King William’s Town, Mthatha, Oos-Londen, Port Elizabeth); KwaZulu-Natal (Durban, Pietermaritzburg, Richardsbaai en Ulundi); Limpopo (Phalaborwa en Polokwane); Noordwes (Klerksdorp, Mafikeng, Mmabatho, Potchefstroom en Rustenburg); Mpumalanga (Nelspruit en Witbank); Vrystaat (Bloemfontein, Kroonstad, Sasolburg en Welkom).

PHOTO CREDIT: Flickr.com_Kamil Porembiński

Leave a Reply

Top